Die 47 jarige Amerikaner, Robert Manry, het as klerk in ‘n kantoor gewerk vir ‘n koerant in Massachusetts. Elke werksdag was dieselfde en hy wou graag iets nuuts doen. Hy kry toe die gedagte om die Atlantiese Oseaan na Engeland oor te kruis met ‘n baie klein seilbootjie. Hy het begin droom en sommetjies gemaak en besef dat hy die tog stoksiel alleen sou moes aanpak. Dae lank het hy geworstel met die plan, totdat hy besluit het om tog te gaan, ook as dit sou beteken dat hy op die see sou omkom. Hy’t besluit dit is die moeite werd. Hy het niks vir die mense vertel nie, behalwe vir sy vrou. Hy was nie bang vir die see nie, maar wel bang dat die mense hom gek sou verklaar en hom sou ontmoedig en afraai, sodat hy geen moed sou oorgehad het vir sy gevaarlike onderneming nie.Sy bootjie was destyds die kleinste booitjie wat die see oorkruis het en was slegs 4,12 meter lank, wat hy “Tinkerbelle” gedoop het. So iets het niemand nog ooit gedoen nie en hy wou die eerste persoon wees. Uiteindelik klim hy in die seilbootjie en vertrek op 1 Junie 1965 vanuit die hawe van Falmouth in Massachusetts. Net sy vrou het hom afgesien, want niemand anders het geweet van die gewaagde onderneming nie en so het hy die lang reis oor die Atlantiese Oseaan begin.Hy het vir 78 dae eensaam en alleen oor die groot see geswerwe. Hy het die hoofroete van die skepe gevolg en moes dag en nag op die uitkyk bly om nie deur die groot skepe op hierdie roete getref te word nie. Sy bootjie was so klein dat niemand dit op ‘n radar sou opmerk nie. Die reis was so moeilik en uitputtend dat hy versteurd geraak het en amper van sy kop afgegaan het van eensaamheid. Tydens storms moes hy homself met ’n tou vasmaak aan die mas van die bootjie, sodat hy in sy bootjie kon terugklim as die see hom oorboord geslaan het. Soms moes hy dae lank nat en smaaklose kos eet wannneer die sout seewater sy voorrade natgemaak het. Somtyds het hy so sleg en eensaam gevoel en van God en mense verlate, dat hy getwyfel het of daar nog wel iemand was wat aan hom gedink het.Toe hy na twee en ’n half maande sonder om te stop uiteindelik die kus aan die ander kant van die Atlantiese Oseaan nader, neem hy hom voor om na sy aankoms eers lekker in ‘n hotel te gaan bad en slaap en dan daarna na ‘n koerant te gaan met die vraag of hulle sou belangstel in sy verhaal. Groot was sy verbasing toe hy op 17 Augustus die hawe van Falmouth te Cornwall, Engeland binnegevaar het. Daar het hy die skrik van sy lewe gekry. Op die kaai het 30.000 mense vir hom gestaan en wag om hom te verwelkom en hom toe te juig. Daar was ‘n vloot van 400 skepe en bootjies wat gelê en wag het, wat gelyktydig hulle mishorings vir hom geblaas het. Hy word toe ingewag deur al die koerante en fotograwe. Hy het nog altyd gedink dat niemand van sy reis geweet het nie, maar sy vrou het mense laat weet dat hy met ‘n booitjie van slegs vier meter die Oseaan oorkruis. Toe hy arriveer weet almal intussen reeds van sy prestasie. Watter onvergeetlike ervaring was hierdie dag vir Robert Manry. Hoeveel makliker sou sy reis gewees het as hy besef het dat daar so baie mense was wat hom in hulle gedagtes gehou het en wat hom met soveel eer en vreugde sou ontvang.Vir party christene is dit nie voldoende om elke Sondag netjies in die kerkbanke te sit nie. Hulle wil graag meer met hulle lewens en drome maak, en graag iets besonders vir die Here doen en daarom gaan doen hulle sendingwerk. Wanneer hulle dan later, vêr van die huis en in die vreemde, dag vir dag vir die Here werk, miskien vertaalwerk doen, of op ‘n ander manier die Here dien, en as dit dan so stil is en die eensaamheid hulle oorval, dan vra hulle hulself ook baie kere af of hulle van God en mens verlate is. Hoe moeilik kan dit word. Dan wil so iemand graag weet of daar nog wel iemand is wat vir hulle bid of aan hulle dink.Na hierdie swaar reis was die ontvangs ‘n geweldige skok vir Robert Manry. So geweldig sal die ontvangs miskien wees wat ‘n sterwende kind van God te wagte kan wees as hy die hemel binne kom. Miskien word die liggaam maande lank deur kanker afgebreek en het die stryd aan sy einde gekom. So ’n sterwende persoon kan homself ook afvra of daar nog iemand is wat van hom weet of aan hom dink. Watter blydskap en verbasing sal dit wees vir so ’n uitgeputte mens, om dan verwelkom te word by die Pêrel Poort, om deur die Groot Koning Self, saam met Sy miljoene engele ingewag te word.Wees vasberade as u iets begin het. Besef vooraf watter gevolge dit vir u gaan inhou. Sê liewers nie te veel as u vertrek nie. Besef die erns en wees liewers stil. Sorg dat die Naam van Here nie tot skande gemaak word as u halfpad kom en sien dat u die reis nie kan volbring nie. Moenie dat die duiwel u versoek om dinge aan te pak wat te groot vir u is nie. Weet wat u kan of nie kan hanteer nie, anders kan dit u dood beteken.Atlete is bereid om groot offers te bring vir ‘n kampioenskap. Christene moet bereid wees om die prys van die wedloop te betaal vir hulle hemelse kroon. Hulle mag hulle nie laat voorskrywe deur die wêreld nie. Die samelewing glo dat daar geen oorwinning oor sonde is nie en glo dat ons nie vry kan kom van sondes nie. Hulle glo dat die huwelik maar hel op aarde moet wees en dink dat huwelike nie gered kan word nie.Christen, begin weer om te droom van ‘n oorwinning met God. Droom byvoorbeeld om die evangelie te kan uitdra na die plekke waar God u roep. Het u al moedeloos geword en u drome verloor? Begin dan vandag opnuut. God belowe: “Julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.” (Jeremia 29:13)Geneem uit ‘n boodskap van Dr. Albu van Eeden, voltyds sendeling en voorsitter van die internasionale organisasie Dokters vir Lewe Internasionaal.
Sunday, April 27, 2008
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment